Tuesday, August 24, 2010

Buitentoe............

Te doen:
Plaasdam "Paddadam" Swem:
Wanneer daar in 'n dam geswem word waar jy so hier en daar íetsie teen jou voel swem, dan sit daar nog groen "slym" in jou hare of teen jou lyf ok vas.

Albaster skiet:
Natuurlik speel jy albasters om jou maatjie sin te wen, behalwe as daar nou vooraf afgespreek word, dat daar nou net vir die "lekkerte" gespeel word, of as jy en jou maatjie altwee net een of twee albasters het.

Tolgooi:
Tolgooi begin waar 'n maatjie vrywillig verplig word om sy tol eerste op die grond neer te gooi. Daarna moet die ander maatjies met hul tole daardie tol wat op die grond lê probeer raak gooi, indien nie moet die tol met die hand, terwyl hy spin, opgetel word (tol draai op plat hand) en dan teen die tol wat op die grond lê gooi.As hy nie sy tol op kan tel voordat hy ophou spin nie, moet sy tol grond toe gaan waar die res hom weer kan raakgooi. As die tol op die grond raakgegooi word is dit groot,want dan word jy as redelik goed beskou.

Bok in die hok:
Daar word 'n reghoekige baan getrek op die grond, waarin al die bokke (kinders) moet ingaan. Hulle mag nie buite daardie lyne beweeg nie. Dan staan daar een kind aan elke kort kant van die reghoek. Hierdie kinders probeer dan die bokke raak gooi in die kraal. As jy
raakgegooi word, dan is jy uit en moet by daardie persoon gaan staan wat jou raakgegooi het, maar jy mag wel help om die ander bokke raak te gooi. Ás jy stadig of aan die slaap is gaan jy met wonde huistoe, maar wie is nie man of vrou genoem om nie saam te speel nie.

"Cowboys en Crooks":
In hierdie speletjie was die sleutelwoorde "dood" en "life". Daar word verdeel in twee spanne, een span die "cowboys en die ander natuurlik die "crooks". Die doel was dat die spanne mekaar so gou as moontlik uitrooi. As jy iemand wil dood skiet moet jy redelik sy hele lyf sien en dan skree; "dood-dood-dood", die persoon wat dan doodgeskiet word moet op daardie selfde plek bly totdat almal van een span dood is. As jy nou slim is moet jy jou opponent bekruip en jou vinger amper deur sy lyf deurboor want daar is mos nou natuurlik 'n paar manne wat nie kan vat as hul "dood" is nie. Al betrap jy hom selfs oor 'n muur klim, sal hy verskonings hê soos; "jy was laer as ek" en spring dan weer agter die muurtjie in. Die manne wat die lankste uithou en kan sy spanmaats weer 'n kans gee deur aan hom te raak en te sê "life".

Wegkruipertjie:
As jy 'n swak blaas gehad het dan was hierdie speletjie verseker nie vir jou nie. En as jy nie hierdie speletjie geken het of gespeel het nie, het jy eerder alleen gebly of was jy van 'n ander planeet.

"Springtou gespring":
Soos die engelsman sê: "anything goes". Jy kon enige iets doen waarop jy en jou maatjies besluit het. Die springtou ding was meer vir die dogters as die seuns, behalwe as jy net sussies op die plaas gehad het en jou maatjies op die dorp gebly het, dan het jy maar saam gespring. Al het jy ook nou gespring vir 'n; onderok, trourok, bikini of kaal. As die tou vasgehak het by 'n trourok, dan het jy nou regtig nie 'n keuse gehad nie.

2 comments:

  1. Power Rangers en Teenage Mutant Ninja Turtles gespeel! Ek was altyd Donatello, die perse met die stok!

    ReplyDelete
  2. Straat Krieket!! En ek en Archie het altyd golf balle na die parkie geslaan

    ReplyDelete