Tuesday, August 24, 2010

Liedjies

Ek ry in my mooi motorkar!

Ek ry in my mooi motorkar en saam ry ook my pop,
En as ek by die rooilig kom, dan sê hy ek moet stop.
Stop sê die rooi lig,
ry sê die groen lig,
oppas sê die geel lig, oppas wat jy doen.

Groot geel teddy beer!

Ek is 'n groot geel teddy beer en almal hou van my.
My oë is bruin en my neus is swart,
'n mooier beer sal jy nerens kry.

Raaisels

Weet jy wat?....Kat se blat!

"Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, woerts in die hoekie?
Wat is dit?
'n Besem"

Hierdie een moes jy vinnig gesê het vir effektiwiteit.
"Vlag van agter, oorlog van voor, dis 'n hond.
Wat is dit?
'n Hond"
As iemand sê dit 'n hond, dan sê jy neeeee..........dis 'n raaisel.

"Dis my perdjie, hoe verder hy gaan, hoe korter raak sy stertjie.
Wat is dit?
'n Naald en garing"

" 'n Elektriese trein ry noord. Watter kant toe trek sy rook?"
'n Elektriese trein het nie rook nie."

Buitentoe............

Te doen:
Plaasdam "Paddadam" Swem:
Wanneer daar in 'n dam geswem word waar jy so hier en daar íetsie teen jou voel swem, dan sit daar nog groen "slym" in jou hare of teen jou lyf ok vas.

Albaster skiet:
Natuurlik speel jy albasters om jou maatjie sin te wen, behalwe as daar nou vooraf afgespreek word, dat daar nou net vir die "lekkerte" gespeel word, of as jy en jou maatjie altwee net een of twee albasters het.

Tolgooi:
Tolgooi begin waar 'n maatjie vrywillig verplig word om sy tol eerste op die grond neer te gooi. Daarna moet die ander maatjies met hul tole daardie tol wat op die grond lê probeer raak gooi, indien nie moet die tol met die hand, terwyl hy spin, opgetel word (tol draai op plat hand) en dan teen die tol wat op die grond lê gooi.As hy nie sy tol op kan tel voordat hy ophou spin nie, moet sy tol grond toe gaan waar die res hom weer kan raakgooi. As die tol op die grond raakgegooi word is dit groot,want dan word jy as redelik goed beskou.

Bok in die hok:
Daar word 'n reghoekige baan getrek op die grond, waarin al die bokke (kinders) moet ingaan. Hulle mag nie buite daardie lyne beweeg nie. Dan staan daar een kind aan elke kort kant van die reghoek. Hierdie kinders probeer dan die bokke raak gooi in die kraal. As jy
raakgegooi word, dan is jy uit en moet by daardie persoon gaan staan wat jou raakgegooi het, maar jy mag wel help om die ander bokke raak te gooi. Ás jy stadig of aan die slaap is gaan jy met wonde huistoe, maar wie is nie man of vrou genoem om nie saam te speel nie.

"Cowboys en Crooks":
In hierdie speletjie was die sleutelwoorde "dood" en "life". Daar word verdeel in twee spanne, een span die "cowboys en die ander natuurlik die "crooks". Die doel was dat die spanne mekaar so gou as moontlik uitrooi. As jy iemand wil dood skiet moet jy redelik sy hele lyf sien en dan skree; "dood-dood-dood", die persoon wat dan doodgeskiet word moet op daardie selfde plek bly totdat almal van een span dood is. As jy nou slim is moet jy jou opponent bekruip en jou vinger amper deur sy lyf deurboor want daar is mos nou natuurlik 'n paar manne wat nie kan vat as hul "dood" is nie. Al betrap jy hom selfs oor 'n muur klim, sal hy verskonings hê soos; "jy was laer as ek" en spring dan weer agter die muurtjie in. Die manne wat die lankste uithou en kan sy spanmaats weer 'n kans gee deur aan hom te raak en te sê "life".

Wegkruipertjie:
As jy 'n swak blaas gehad het dan was hierdie speletjie verseker nie vir jou nie. En as jy nie hierdie speletjie geken het of gespeel het nie, het jy eerder alleen gebly of was jy van 'n ander planeet.

"Springtou gespring":
Soos die engelsman sê: "anything goes". Jy kon enige iets doen waarop jy en jou maatjies besluit het. Die springtou ding was meer vir die dogters as die seuns, behalwe as jy net sussies op die plaas gehad het en jou maatjies op die dorp gebly het, dan het jy maar saam gespring. Al het jy ook nou gespring vir 'n; onderok, trourok, bikini of kaal. As die tou vasgehak het by 'n trourok, dan het jy nou regtig nie 'n keuse gehad nie.

Grapkas

Sê,sê,seeeeeeê.............

Hierdie grappies het meer probleme veroorsaak as enige iets anders, maar watter ouer kan nou nie sy lag hou as 'n juffrou jou bel op 'n maandag oggend, om te vertel wat jou kind gesê
het nie.

Wat is 'n grappie nou onder vrinne:

"Jou tanne is soos 'n yskas, nie so wit nie, maar so vol kos."

"Jou tanne is soos die sterre, nie so blink nie, maar so ver uit mekaar uit."

Kinderprogramme

Die top afrikaanse kinderprogramme:
Brakenjan:
Honde wat as musketiers uitgebeeld word en vir die koning van
Engeland veg.

Sinbad:
Die klein seuntjie wat rond vaar en reis en baie avonture ervaar.

Sandokan:
Sandokan die seerower, gebaseer op sinbad, afgespee in die ooste, maar nie as mense nie maar diere.
Heidi:
Wie ken nou nie vir Heidi en Peter nie. Die dogtertjie wat by haar oupa
in die alpe gebly het en saam met die bokwagter, Peter,gespeel het.

Tao Tao:
Die Mamma Pandabeer wat vir haar kleinding; Tao-Tao, en sy maatjies, stories vertel.

Dawie die Kabouter:
'n Kabouter wat elke dier en mens in nood gehelp het.                       
Dan was daar ook trolle watmoeilikheid veroorsaak het in die woud.

Mina Moe
Was 'n koei wat 'n melkprodukte fabriek gehad het. Haar helper se naam was Karing Ramkat. Na die drink van 'n melkie uit hierdie fabriek, het hy "superkragte" gekry waarmee hy die skobbejakke genaamd Bak en Terie, maan toe geskop het, want in elke episode was daar 'n sabotasie poging.
Moemin:
Moemin was 'n wit seekoei wat saam met sy ma (mo-mamma) en
pa (mo-pappa) in 'n vallei gewoon het. En saam met sy maatjies
Momei, Mei-mei, Boe-boe, Snifsnaf en Stinkie avonture beleef het.

Liewe Heksie:
Goeie,liewe, "lucky", vergeetagtige, maar nie altyd so slim Levinia Heks, het saam met Blommie Kabouter, Karel Kat en die ander inwoners van blommeland nuwe dinge ontdek. Koning Rosekraans het altyd van Liewe Heksie en haar perd "Griet", wat perongelik getoor word, gebruik teen die gifappeltjies en die geelheks wat blommeland wou oorneem.

Mannemarak:
Mannemarak ("alien") het in sy ruimtetuig saam met Kompie (sy rekenaar) die aarde kom ondersoek, om uit te vind hoe dit lyk en hoe alles werk.